Public-domain ebook
Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef
by Totius
Language: af1,227 downloads on Project Gutenberg
Subjects
In: South Africa·Historical Novels·Poetry
Public-domain ebook sourced from Project Gutenberg #16543.
Public-domain ebook
by Totius
Language: af1,227 downloads on Project Gutenberg
Subjects
In: South Africa·Historical Novels·Poetry
Public-domain ebook sourced from Project Gutenberg #16543.
The work is an Afrikaans verse narrative that traces the fortunes of a farming family on the Rand from the early days of settlement through the gold rush, the birth of Johannesburg, the Boer‑British war and the formation of the Union. It opens with a panoramic description of the flat, grassy hills where “oom Gert, ’n trekker,” lives with his wife and only daughter, and quickly introduces the neighbouring colonist “oom Koos” and his son Willem, whose romance with Dina, Gert’s daughter, becomes the thread that links the successive poetic sections. The verses move from idyllic farm scenes to the bustling Perdekraal celebrations, then to the wider upheavals of war and nation‑building, all while the poet intersperses vivid landscape imagery and occasional dialogue.
The language is firmly rooted in early‑20th‑century Afrikaans, blending lyrical description with a straightforward, almost oral storytelling tone. Its structure, four distinct verse cycles that mirror historical phases, offers a rhythmic yet accessible reading experience. Readers who appreciate regional history, pastoral poetry, and the cultural texture of pre‑Union South Africa will find the piece rewarding, especially those drawn to works that fuse personal drama with the broader sweep of nation‑forming events.
The opening · free to read
'n Woord van Inleiding
Die versies verplaas ons bo-op die Rand, ongeveer waar Johannesburg nou lê. Daar het oom Gert, 'n trekker, met vrou en enigste dogter, gaan woon. Later kom oom Koos, 'n kolonis, wat in die nabyheid grond gekoop het. Sy seun Willem raak verlief op Dina, oom Gert se dogter. Nadat die twee families saam Perdekraal-fees gevier het, gaan Willem en Dina trou.
Die tweede versereeks beskrywe die ontdekking van die goudvelde en die opkoms van Johannesburg, maar ook die verleiding waaraan Willem en Dina, wat by oom Gert inwoon, blootgestel is en waarvoor hulle beswyk. Die tweede stuk eindig dan met die groot Boer-Britse oorlog.
Die derde versereeks verplaas ons in die tyd toe die Unie tot stand gekom het, en beskryf die treurige einde van oom Gert en Dina.
Dis die simpele storie waarop die hele gedig gebou is. Ons kan hier nog byvoeg dat die S.A. Akademie, deur die vrygewigheid van genl. Hertzog, in staat gestel is om jaarliks 'n milde geldprys vir letterkundige werke uit te loof. Die prys vir 1915 is aan hierdie gedig toegeken.
[Illustrasie: "Verlore-klein lê op die Rand / hul huisie in die trekkersland."]
Dis heuwels, heuwels, heuwels net sover 'n mens se oog kan speur; grasheuwels waar ook riwwe gaan, met enkele stroompies tussendeur.
Daar is geen hoë berge nie, want hoog is daar die wêreld self; en luggies waai daar dun en fris, of dit stroom uit die blou gewelf.
Die baie dale en klowe wat die hoogland kruis en dwars deursny, bied winterskuiling vir die vee wat anders al te koud sal kry.
En as die eerste rypies val trek bosveld toe wat kan, om daar in lekker warrem son hul winterlaers uit te span.
Maar somers is dit heerlik op die Rand; dan lê in sonnegewaad die heuwels soos ramme te sluimer-slaap langs strome wat lag en praat.
Dan reën die wolke somaar as hul swaar skuif oor die hoë land, en die dak van Transvaal se geute spuit die water weg na alle kant.--
Dáár in die hoë wildheid met sy huppelende heuwelskoon het jarelank 'n trekker met sy vrou en kind alleen gewoon.
Verlore-klein lê op die Rand hul huisie in die trekkersland; dit is 'n stip net in die wei-- die rietedak en muurtjies van klei.
Daarlanges lê die beestekraal, waar smiddags doodse stilte daal as kalfies, in die son gebraai, die vlieë van hul kop lê waai,
so dom-gerus; en bly-ontsteld eers opspring as uit ruie veld die koeie aandraf wat met hul geloei die awendstond vervul.
'n Bietjie verder van die huis, waar mielieblare helder ruis as windgeroer hul sanggeluid hef bo die dowwe velddreun uit,
lê laer af, 'n klein vierkant, die rooi geploegde akkerland waaruit die boer by goeie jaar sy mielies, ál sy graan vergaar.
'n Enkele perske, aan die lug gewénd, dra daar sy goudgeel vrug, en bied, gedroog, in wintertyd, 'n skaars-verkrygbre soetigheid.
Dit is die plasie wat daar leg, só rustig in die wydte weg-- 'n koninkrykie op homself waaroor 'n helder hemel welf.
Nou ry 'n ruiter oor die rant. Die bodeur 's oop al as hy kom; net die onderdeur se werwel draai 'n vrouehand by die aanklop om.
Sy groet as sy hom binnelaat, en vra hom wat sy wense is: hy moes maar bietjie sit as sy gaan om pa te sê dat daar mense is.
Sy skuif verby met mooie buig en stap met ligte voetstap weg. Die vreemdeling sien skrams nog net haar volle wese en hare-vleg.
'n Glimp, 'n glans, 'n gouigheid, nes of 'n gees verskyn. Maar nooit sal in sy lewenstyd dié ligbeeld uit sy siel verdwyn.
So half-verleë, asof bespied, laat sy haar hande strelend gly oor halme wat in volle saad hul hooghef aan haar wedersy,
en saai 'n handvol grassaad heen, denkend so in verbygaan dat by seëning van wind en reën, 'n enkele wel sal wortel vat.
Intussen kom haar moeder met 'n lekker koppie koffie aan; sy sit gesels en sien haar kind al verder na haar man toe gaan.
Net oor die werf, met kweek deurwas, lê duidelik in kronkelspoor-- so loop die mens se voet altyd-- die voetpad na die watervoor.
En verder, aan die werf se kant, juis waar die hoë halme waai, sien ek 'n tweelingstrepie wat bevallig deur die velde swaai.
Die tweeling-spoortjies, so gering, met die maanhaar tussenbei, is die kompas wat trekkersboer deur skraal bewoonde streke lei.
Dit is sy seker spoorwegbaan, meteens sy wisse tel'graaflyn, waarlanges gaan sy tripp'laar en sy stadige ossewa-trein.
Wanneer die land kom in gevaar, dan sien jy langs die lyntjies gly 'n wakker stoet van burgers wat op wakker perdjies ry.
Die moeder kyk maar al weer uit, die tyd begin nou lank te val;-- daar is haar dogter by haar man, en ja, daar kom hul al!...
"Dag neef! Is dit die oudste seun van buurman Koos miskien? Ek het hom so 'n dag of wat vir die eerste keer gesien."
"Oom ja, en pa laat vra om saam in een geselskap op te trek: alléén sal ons te vreemd ons voel op Perdekraal se saamkomplek."
"Sê vir jou pa dis goed, my neef. Kom maar die middag bietjie vroeg, dan ry ons nog 'n aandskof en is daar die môre vroeg genoeg.
"Kyk, daar is Perdekraal, daar waar die laaste heuwels rys." Oom buig hom oor die onderdeur terwyl sy vingers wys.
"Wel, oom, dis goed, ons sal so maak." Dan sal hy ook maar weer vertrek. Hy gooi die teuels oor sy perd en ry weer oor dieselfde nek.
Bo-op die nek loer hy verlaas versigtig nog na agter om, of hy nog iets kan sien, maar nee, die nôi het nie weer uitgekom!
o, Die eensaam-huiswaartse rit, en die eerste gedagtes aan haar! Dit is die eerste keer dat hy die uitdraai-paadjie nie gewaar...
The book keeps going
Reading is free forever. Sign up and watch scenes appear while you read.



Scenes Storieta drew for other classics.
New illustrated classics
Once or twice a month: the latest books to get full character casts, scene art, and free comic editions. No account needed.