
Public-domain ebook
Gedigte
Language: af430 downloads on Project Gutenberg
Subjects
In: Poetry
Public-domain ebook sourced from Project Gutenberg #66835.

Public-domain ebook
Language: af430 downloads on Project Gutenberg
Subjects
In: Poetry
Public-domain ebook sourced from Project Gutenberg #66835.
The opening · free to read
AAN „MADONNA”.
Ek ken ’n woud waar orchidieë straal Soos sterre in ’n bij-besogte dal, En lisplend sing ’n lome waterval Tot slaap soos wierook op die bosse daal.
Dan kom die Feeë-koningin, gedra Van droomgewiekte rosse, wit soos melk En swaar wieg elke orchidieëkelk, Belaai met elwe-klosse om haar wa.
Daar dring ’n stoet van ridders om haar heen En bied in diamante bekers wijn, Wat in die halflig vonkel soos robijn, Bied op geboë knieë, een vir een.
En deur die dromme van die dartel stoet Dring daar ’n beedlaar wat sij hoof laat hang, En bied haar in ’n bloemkelk opgevang, Diepbuigend, wat hij het—sij hartebloed.
’n Oomblik speel ’n glimlag, soos die maan Deur wolke skemer, oor haar rosemond Terwijl sij vreugde uitstort in die rond; Sij kon die dure gawe nie verstaan,
Maar in die woud waar orchidieë straal Soos sterre, in die bij-gesuste dal, Ruis lispelend ’n lome waterval Tot slaap vir ewig op die bosse daal.
SONDAG MORE.
Dit is stil in die voorhuis En stilte rus swaar op die bulte daarbuite, En stoffies hang blink in die lug, waar die venster ’n Gulde balk van louter luister inlaat. Daar word boeke gevat: Die psalm gaat statig opruis, Ruis weg oor die druipende wilkers, Waar die tortels selfs luister; ’n Hymne aan God, aan wie dit gerig is, ’n Statige hymne van rus en van vrede, ’n Wierook kolom. Dis weer stil. Luid kraai die haan in sij beurtsang— En nou word gepraat, eers saggies dan luider, Nou word selfs gelag ... die stemming verbroke— Die diens is virbij.
DIE BEELD VAN OOM PAUL.
Grouw in die maanlig rijs die swaar kolos, Oorheers die jong geboomte aan sij voet, Waardeur die aandwind huiwrig klaënd spoed, En rustloos, als van geeste, sug die bos.
Die maan maak daar ’n glimlig op sij wang, Wat in die skemer lijk als nat betraan; Hij peins oor jonggestorwe hoop, die waan Van volkwees, peins oor volkswee en oor dwang.
Voor sij gesig daar strek die doderijk, Waar al sij tijd- en strijdgenote rus, En aandwind saggies oor die slapers strijk.
Wit-deinsrig skijn die maan oor stene alom.... En grillig die verlede wat daar kijk Op ’n gewese Afrikanerdom.
(Met vergunning van „_De Burger_”).
TWEE EN EEN.
Voor die „ek” nog bestaat Word gesug en gesorg, Verwagting met vreug word ontvange in wee; Wat al is, word vir hoop In die toekoms geborg, Want die lewe is een, en die wil is vir twee.
Lippies so lokkend En blosse so sag, Verleilik die ogies nou, dan weer verlee; Dis nog skaars in die lewe, Nog skaars uit die nag— Maar die lewe is een, en die wil is vir twee.
Naar die kerk gaat dit hijgend En wiegend en swaar, Teen die boesem verlep moet die bijbeltjie leen; Met vuur word gebid En gevlei—Ja dis waar, Die lus is vir meer, maar die lewe’s net een.
TER GEDAGTENIS VAN IMMELMANN.
Is Icarus gevalle, waarom huil die wind so sag? Waarom strooi die meerminkore perels neer? Hoor jij nie daar’s geen gelispel, net ’n droewe golweslag En die nautilus pluik nou g’n purper meer.
Is Icarus gevalle in die vreemde, ver van huis, Waar ons eie bulte nooit sij graf sal merk, Maar in beddings van korale waar die skulpe ewig ruis, Sij hoof geskraag op ’n gewrakte vlerk?
Is Icarus gevalle? Ja, hij kon ’n laë swerk Nooit vir sij hoë moed genoegsaam vind, En stijgend steeds van kreits tot kreits met kloek gespanne vlerk Trotseer hij altijd wakker weer en wind,
Tot sfere waar die vrijheids son sij strale nijdig hef Met wimpers in die weste rooi omkrans, Toe word meteens sij wieke met Apol s’n pijl getref, Virseker was die val met sterreglans.
Ja, Icarus gevalle! maar hij wou g’n slaaf meer leef, Net wie nooit wil stijg kan moeilik immer val, Strooi blomme oor die water, laat die maagde kransies weef, Wijl die water droewig weeklaag teen die wal.
Ja, Icarus gevalle! Maar solang die winde suis, Solang die seeskulp fluister van die see, Sal vertel word van die ridder wat gevel is ver van huis, Vir vrijheid en vir glorie, lang gelee!
VIRGO RUSTICA.
Twee oë vol lus vir die lewe, ’n Gesig wat van geesvlugheid spreek; Vol geesdrif en lig, wat daar bewe, Die bekoorlikste skaduwees week; ’n Lag soos die beek, wat daar kabbel, Soos klippies in diep kuile val, En ’n stem soos die watergemurmel, Soos golfies aan wal.
Als die welle in sirkels uitrimpel, Geheimsinnig die kuile deurwaar, En die lelie al wiegend self dimpel, Met laggies haar weerskijn aanstaar; Waar die waterriet suiselend fluister, Haar geheim teen die nagwind belij; Soos ’n vreemde geluid in die duister Onverstaanbaar is sij.
MADONNA-DIENS.
Dit is ’n nag, die opstandig van drome, En ons ontwaak uit slaap, wat ons rede noem, En agter uit die skemer, uit die some, Waar Digting Waarheid raak, kom opgedoem Diana van die jag; die Mingodin, Godinne vroeg aanbid; Want Liefd’ moes lewe gee, die jag dit win: Offers en kranse wit Het altijd die altare van die twee getooi, Geskenk van Jeugd wat sug naar roem, Of skugter nooi.
Die vrouwlikheid trek ons virewig aan.— Die Dondergod en Mars moes altwee swig, Al het die Prins van Vrede vir ons voldaan, Te luister was sij lig: Madonna moes vereer word, Moedermaagd, Haar slape moes bekrans met die kleurkring van die maan, En deur die glorie van ’n grote God versaagd Soek mens wat menslik is en bid Haar aan, Bepeins haar pijn, haar wereldgrote smart En weedom vir haar wig, Haar moederhart.
Die Eeuw is haastig, Liefste, maak gebaar En in ons tijd van rede en ongeloof, Verdeelde doele en twijfel, val ’n skaar Van vrae ons aan en wil ons rus beroof.
Die lug is swoel daarbuite, swijgend swaar Van stroperige walm uit blommekelk, Die kriek sing lente en die padde-skaar Weergalm en swijg, die meibos, wit soos melk Skijn in die maanlig wat in strome rus Op die lente wat daar lok. Soos hare van ’n vrouw wat saggies sus En sing, haar kroos omkrans, So druip die wilkertakkies loom en slank en glans Soos silwergaas of elwerok En rus.
IN DIE PARK.
Jij sê ek’s mal omdat ek dag na dag Hier in die park allenig sit. Ou maat, Strij help nou niks, ek sien dit in jouw oë, En in die oë van die kindertjies, Wat bang-meelijdend naar mij kijk en dan Weer agter rok van Ma of meid induik. Asjoublieftog, neef, wag net ’n beetjie, hoor. Vir daë sit ek hier alleen en lag, En tel die groewe wat al dieper snij In mij gesig, soos in ’n pad waar waans Met sware vragte spore agter laat; Nou moet ek praat en jij moet luister, neef, Moet help die vragte biekie ligter maak Of ek gaan vasval. Dis reg, luister nou.
Kijk daardie grasvlek, waar die kinders speel En waar die gieter sprei; kijk die kwikkie daar, Kom nader tot die waterstroom hom rol Oor die kweek, dan kom hij weer, en nou Sit hij sij bors en krap. Uit die vijwerkom Spuit slank ’n waterstraal omhoog en sprei In duisend perelsnoere, soos ’n maagd Wat trag haar liggaam met haar haar te dek. Hoor hoe die water lag, net soos ’n vrouw Wat haar kindjie opgooi en weer veilig vang; Kijk die blommemure hier, en daar, en daar, Soos strome louter goud en westergloor Waaruit die bij-gesoem mij rede sus, (Jij lag om ek sê rede) en die heuningbek Bewegingloos al oor die blomme tril, (Selfstandig soos die hoogste Englekoor), Of blink en groen van bed tot bedding straal. Kijk die kinders, man, verstaan jij wat ek meen? Verstaan jij dat ons almaal, iedereen, ’n Engel het, moet hê, wat ons bewaar? Hoe sal ek jou tog maak verstaan? Let op! Saands in mij bed steek ek ’n sigaret Aan, elke nag, voor ek die lig uitdraai; En onder bij mij voete, teen die muur Hang daar ’n prent van Echo, dit wil sê ’n Prent van ’n beeld van Echo, slank en wit, Wat wag en wag en luister, ewig wag; Virewig en verniet. Dan glim die kool Van mij si’gret in die prent, en ek denk so: „Narcissus kom tog nooit, sal nimmer kom; „Maar al sal Echo nooit haar minnaar sien, „Haar tweeling suster Weerlig sal sij kus „En die refleksie van ’n vonk omhels; „Want Weerlig moet vir Weerklank troos, of ek „Word gek, die spanning is te groot, net soos „Die blomme teen die muur ’n siekmens pla.” Nou, so het ek en jij en iedereen ’n Engel wat ons wandel gadeslaan; Ek hoor sij wiekgeruis in kinderlag En sien sij vleu’els blits in manestraal, En in die lag van maagde, en sij stem In water wat so sag teen walle klots.
Toe ek nog klein was het mij moeder steeds, Als sij mij naar mij bed bring en laat bid, Vertel van hierdie wagter, dus geen vrees. En deur mij jeugd in lig of duisternis Het ek geen trouwer metgesel gehad ’n Wese wat oor siel en liggaam heers, ’n Afgesant van God.
En toe een aand, Ek sien dit nog, die kerk was stapelvol, En hel het lugterkroon en lamp gestraal, En orgel-tone triomf uitbasuin. Die predikant was glad van wang en stem, —Ek sien die lig nog op sij voorhoof glim— En wijl toehoorders weeldrig sit en gril, Het hij van voorbestemming sag vertel, (Predestinasie, wat jij dit wil noem) In periode ruim en afgerond.
Die wee, mij God, ek voel dit nog, die wee Waarmee ek daardie kerkgebouw verlaat het; Dit het soos vure oor mij siel geskroei, Soos wurme in mij murg geboor, mij brein Laat brand soos koors. Waarom, dag ek, waarom Die mensdom selfbewus gemaak, gebied ’n Ewig voortbestaan, totdat hij lus En toe, net soos ’n kind ’n hondjie terg, Dit weggeruk? Die glorie, adel, prag, Die wilde skoonheid van ons groot heelal, Wat soos ’n riet mij hele siel laat tril, Als die grootse harmonie daaroor gaat ruis, Gaat alles swanger aan verderf en hel; Wijl Hij, die maker, homself Liefde noem!
The book keeps going
Reading is free forever. Sign up and watch scenes appear while you read.



Scenes Storieta drew for other classics.
New illustrated classics
Once or twice a month: the latest books to get full character casts, scene art, and free comic editions. No account needed.