Storieta
English
Save & sign up

The opening · free to read

Uitgewers: J. L. Van Schaik, Bepk, Pretoria 1925

AAN MY VRINDE JOHANNES J. SMITH en W. M. R. MALHERBE.

Neem wat ek hier bring, as ’n blyk Van vrindskap aan; want ek erken Met dankbaarheid dat wat ek wen Uit vrindedaad, my siel verryk.

VOORWOORD.

Die bundeltjie maak geen aanspraak op geskiedkundige juistheid nie, en net so min op dramatiese samehang. Dit is ’n aaneenskakeling van los gedagtes wat in die oorpeinsing van ons volkstoestande by my ontstaan het, en as sodanig bied ek dit die leser aan.

Ek is opregte dank verskuldig aan dr. Malherbe, die redakteur van „Die Brandwag,” vir sy hulp en bystand in die voltooiing van die bundeltjie vir die pers.

C. L. L.

Pretoria, Desember 1919.

BY DIE TWEDE DRUK.

Die twede druk verskil aanmerklik van die eerste. Nie alleen is die taal en spelling op ingrypende wyse hersien en in ooreenstemming met die gebruik van vandag gebring nie, maar ook is daar op verskeie plekke toevoeginge en verduidelikinge ingelas. Hier en daar het ek ook versreëls en strofes wat my minder goed voorgekom het, weggelaat. My hartlike dank aan my vrind professor J. J. Smith, wat my baie nuttige wenke gegee het, en wat hom ook belas het met die nasien van die drukproewe.

C. L. L.

Pretoria, Julie 1925.

DIE AANROEPING.

O land, my Moederland, my Afrika, Diep smart-verwonde Moeder, steun my stem, En met jou liefde en guns besiel my lied, As ek die diepste diepte wens te peil! Bevoorreg deur die feit ek is jou kind, Vonk van jou vlam wat in jou vlam verskiet, Stof van jou stof wat weer jou stof sal wees, Leen my die mag om met gewyde hand ’n Bousteen by te sit by wat alreeds Gestapel is vir onse volkspaleis. Skenk my die sterkte wat uit liefde spruit— Aan my wat in my siel diep vir jou voel— Een van jou volk, verlore en alleen, Wat in die wêreld waar hy omdool, weet Hoe groot sy land, hoe klein sy kragte is. O maak my magtig om die tranevloed Deur snode onreg of versmoorde smart En bitter jammerly gewek, te stil Met taal wat aantoon waar die skuld betaal In toekomsjare groter wins sal win. Wys my die weg om tussen haat en nyd, Dwarsoor my die pronk van patriotsgevoel, Vooroordeel en onwaardig, onwaar spog, En louter liefde vir my eie land, Oorheen te stap en onverdwaal daardeur Die hoë heiligdomme te bereik Waar eie liefde tot in niks verkwyn.

Verlig my, Moeder, deur jou liefdeglans Wat veld en bult en koppie en krans bestraal, Wat geil die saad laat opskiet tot die groen Wat in die eerste somer oor die land ’n Golwende see van teer smarag verwek, Wat met rooi prag die kafferboom belaai, En met ’n suiwer goud die aalwynblom. Verstrek my moed om agtertoe te sien En afgedane werk te vergelyk Met wat nog wag vir hande as liefdewerk— Die moed om sonder skroom en sonder skimp Waar skuld was, skuld te vind; te eer wat eer, Deur eerlik doen of late, waardig is— Dat ek die treurgekied’nis wat ek sing, Opreg, met al sy smart en al sy leed, Met al sy wonderglans van wondermoed, Uiteen kan sit. En laat jou liefde wek Gevoel van vaste hoop en vurige trou, Geloof in groeikrag wat die kiem besit Nog sluim’rend in ons harte en ons volk, En kennis van wat nog ontbreek om klaar En vol-kompleet te maak die werk wat wag. Gee bystand, Moeder, as die taak te hard En te ondankbaar skyn, en met jou lig Bestraal wat in my lied verligting eis.

Hy, digter, wat in duister vir sy volk Besing ’t die helde-heer van Ilion, Die toornende Achilles en die dood Van Hektor, en die doolweg van Ulisses— Hy het vertrou sy volk sal groter wins Uit ongebore jare ryklik haal, Om met vereende kragte voort te gaan Op paaie deur die helde vroeër betree. En ek, wat t’rugdink aan dié worsteltyd, Gun, as ek dink, myself die hoop ons wen Deur broederlik-vergaarde nasievlyt Die reg om volk te wees, as volk te staan, In dae wat nog verder voor ons lê. Gedwarsboom deur die daagliks-drukkende las, Wat moeg maak en wat afmat, kan dit wees Dat verder peil vir ons onmoontlik is, En laer lot as skamel deel genoeg? So mag dit wees, miskien, dat Afrika, Soos eenmaal ou Italië, slaaf moet staan— ’n Smartekroeg, ’n stuurmanlose skip, Ontmeester van sy eie, ’n bordeel. So mag dit wees as ons hiernamaals kom Diep in die dodeland waar geeste woon Wat eenmaal vleis en been op aarde was, Dat één ons aantref—één wat bloed van ons Op aarde was en vir sy lewensland Nog liefde oorhou: „Wat gebeur daarbo? Hoe staat dit met my land?” En ons moet sê: „Só staat dit met ons land: Verdeel, verspil Die kragte wat, verenig, seë bring; Vermink die mannemoed, verbreek die mag Wat eens die wilde woestheid kon bedwing.” En hy wat hoor, sal, soos Sordello, roep: „O wee my land, wat tot ’n slaaf versink!” So mag dit wees as kind se kinders vra Vertelsels uit die jare lank verby En luisterend roep: „Hoekom het ons vandag Nie wat ons vroeër had nie?” Tyd vergeet Nie en vergewe nie. Wat Nou vereis, Moet Nou geskied; en wie op Later wag, Wag op ’n skim wat skaduloos versmelt.

O, Moeder, ryk aan smarte, ryk aan moed, En ryk beloon deur wat Natuur verspil, Skenk elke seun vir wie jou weelde gee Om rykelik die lewe te geniet, Die krag om wat geniet word, te betaal Met loon wat deur betaling liefde wek. Skenk hom die krag wanneer verdeeldheid skei Wat vroeër een was, om sy steun te gee Om wat verdeel is, weer tot een te maak. Tas met jou hand sy onsiende oë aan, Dat hy, soos Saul van Tarsus, weer kan sien Die doel wat dieper as die skynsel lê. Jy, Moeder, jy besit die mag! Jy hou Hier in jou skoot ’n weelde wat oortref Die glorie eens aan Salomo se hof Getoon aan verre Skeba se vorstin— Wat groter is as al die skatte-prag Weleer gehaal deur fabel-genius Vanuit die diep smarag-gekleurde see En voor die meester neergelê wat hy, Gebonde deur sy eed, as slaaf moes dien.

Wie het die reg, as hier die lente leer Hoe kort die winter-slaaptyd eintlik is— Wie het die reg, as hier die daeraad breek In pêrelgrys bevlek met rooi robyn, Om t’rug te dink aan winter en aan nag, Aan gisteraand se sterre en skemergroen? O glorie-songloed, wat jou goud verspil Die ooste oor, en van die bergrand maak ’n Kroon wat skitter met besielde prag, Wie durf die donker aanroep en verbeel Dat duister en dood oorwinning sal behaal?

Die dag breek aan. In doringbosstruik en riet, En slanke wilger wat oor water treur, Ontwaak die koor van vinke in môrevreug. Die blom voel op die veld sy lewenssap En werp sy geur uit om die dag te groet. Hier is ’n tuin van weelde, wierook-vol— Wilde skildpadbossies in bloei, en geel slangwortel. En rooi rabas, en goudgeel stekeltee, En rankende bitterappels in die sand, En droedaskruid wat op die droogte teer, Met sieketroos en wilde kamomille, Graweelkruid, roosmaryn, en ramenas, Bospeper, velskoenblaar, en in die vlei Die maerman sonder blomme, en boesmangras. Nou punt op punt en streek op streek verloor Die veld sy grys; en waar die skadu was, Daar skyn die son, en deur sy glans gelok Kom koggelman en geitjie uit hul skeur Om op die goud-bestraalde klip te speel; En elke bos word lewendig met die lied Van duisend sangertjies wat tjilp en fluit ’n Welkom vir die dag wat hier begin. ’n Somer-daeraad! Waar die berge skerp Die lang gelykte van die ooste breek Met bult en kop en wind-gekerfde tand, Daar straal ’n gloed van grys en perlemoen, Met hiasintpunte en vlekke van vermiljoen, Wat lewe en bewe en skitter en skyn van kleur, En breek tot laaiende vlamme van rooi goud, Waarteen die donker purper van die rand In somber glorie-prag as skadu staan. En in die voorgrond, pêrelgrys en groen, Lê leegte en laagland, dou-benat en dof, Gesluier deur bewende môremis wat rys, Uit slaap gewek en vogtige drome-rus, Half sku die hemel in, om daar te kry Hulp van die wolke wat die klowe dek, En nuwe vog wat, vrugbaar vir die reën, Die laagland en die leegte later voed Met nuwe lewe vir ’n nuwe tyd.

O swanger grond en moeder-liewe turf, Wat in jou skoot die tere kiem bewaar Met warme liefde, tot die wonderwerk Verrig is en die groen spriet son-toe worstel— O Moeder, oud en wys deur wat die tyd Vrygéwend gee in rykste owerskot Deur ondervinding eeue deur geleer En eeue deur herhaal, gee lig, en lag ’n Welkomsgroet wat hoop en sterkte bring, En tot geduld en nuwe werkkrag spoor!

I.

Die môreson bestraal die plaas; In goue glans lê veld en tuin; Die leë kraaltjie op die kruin Glim silwer in die môrewaas.

En op die stoep, en om die stoep, Daar draai ’n mensehoop omheen; En een staan op ’n stoel alleen, En algar hoor hom as hy roep:

„Kom, kêrels, kom! ’n Kandelaar Van eerste-klas ou silwerwerk— ’n Ouderwetse sieraad, sterk En sierlik, van die beste waar!

Hoeveel nou vir die sieraad? Kom, Gee my ’n bod! Die hoogste win. Ag dalers? Man, jy dink te min: Dis silwer dit—nie waboomgom!”

Met mooipraat en met skerts vergaan Die treurig-lang vandiesiedag; En eind’lik daal die skemernag, En vredevol bestraal die maan

Die half verkoopte plaas en dal, Die treurige uitverkoopte huis— En deur die ope vensters druis Die wind, wat sag oor alles val.

Die wa staan klaar-gepak, gelaai; En twee span osse wag hul taak— En in die leë kamers waak ’n Huisgesin tot hanekraai,

Om met die eerste môregrou Die vaderplaas vaarwel te wens, En voort te struikel oor die grens Tot waar die verte vryheid hou.

II.

Ons vra geen klaaglied, Geen roubetoon nie; Geen meely-woord van afskeid gee vir ons Om ons te hoon nie! Ons het ons lot met albei hande beet, En gaan die wêreld in. Ondank en onreg—laat ons dit vergeet: Ons gaan ’n nuwe land win— Nie deur onreg nie, nie deur geweld— ’n Nuwe land, waar ons die son kan vat As in die vroeë môre op die veld Sy lig in spranke spat. „Goeiendag, en God sy met jou!” Dit is al Wat ons verwag. So gaan ons rustig in die donker dal, Tot in die nag— ’n Nag waarin gesternte helder fonkel, Elkeen omraam met fynste groen ferweel; Waarin die melkstraat kronkel En met planete speel; ’n Nag wat lei tot vlammende daeraad Om ons steeds voor te lig. Kom, vrind’lik handgegee—die laaste daad! En noord-toe ons gesig!

III.

Die swart pondokke staan in kring; En om die vuur sit man en vrou Om ernstig same raad te hou Oor watter lot die môre bring.

Weemoedig praat daar een en knik, En gee sy stem vir gaan of bly; Wat eenmaal slaaf was, is nou vry En kan na wens sy wandel skik.

„Die Oubaas trek oormôre voort— Die hele huis met Oubaas mee— Die hele huis en al die vee, En alles wat aan Oubaas hoort.

En ek wat slaaf van jongs-af was, Onthou oorlede Oubaas sê— Oorlede Oubaas, wat dáár lê, Dáár onder die begrafnis-gras:

‚Pas goed op kleinbaas Jan, en hou Jou eerlik, Malie, as jy kan; Jou tate was ’n goeie man: Hy was vir my en myne trou’.

En ekke hier, wat kleinbaas Jan Geabba het en perdgery— Sal ek as vuilgoed agterbly, Om hier te lewe soos ek kan?

Oorlede Oubaas het gegee Sy woord aan hier ou Malie: ‚Hou Jou soos jou pa-goed, eerlik, trou, En pas op kleinbaas.’—Ek trek mee!

En hier’s Regina, wat kan staan Getuie van die waarheid! Sê Vir ons wat wil die Oubaas hê: Ons swartgoed—moet ons bly of gaan?”

En ou Regina antwoord: „Nee, Wat Malie sê, is eerlik waar. Ek werk vir Ounooi twintig jaar— Ek bly nie agter: ek trek mee.”

The book keeps going

Keep reading, and see it illustrated

Reading is free forever. Sign up and watch scenes appear while you read.

Illustrated scene from FrankensteinIllustrated scene from The Great GatsbyIllustrated scene from Pride and Prejudice

Scenes Storieta drew for other classics.

New illustrated classics

A new classic, drawn, in your inbox.

Once or twice a month: the latest books to get full character casts, scene art, and free comic editions. No account needed.