Storieta
English
Save & sign up

The opening · free to read

Vir ’n skrywer, maar veral vir ’n Afrikaanse skrywer, in die tye wat ons belewe, is dit besonder aanmoedigend en verblydend as hy ondervind dat ’n nuwe druk van sy werk nodig is. Ek dank my landgenote vir die aanmoediging en ondersteuning, en hoop dat „Martjie” by toeneming sal bydra tot die doel wat ons beoog: opbou van taal, kuns, nasionaliteit.

In hierdie twede uitgaaf het ek die spelreëls toegepas wat goedgekeur en vasgestel is by die jongste sitting van die „Zuid Afrikaanse Akadémie voor Taal, Letteren en Kunst”.

Op ’n paar kleine wysiginge na, is die eintlike teks onveranderd gebly.

Ter wille van maat en ritme, en alleen om die rede, het sommige woorde afwykende vorme gekry, b.v. „ower” in plaas van „oor”, „bowe” in plaas van „bo”, ens. Om dieselfde rede is die dubbele ontkenning hier en daar verwaarloos. Die woordjie „sig” het ek hier en daar nog behou.

Ten slotte nog ’n enkel woordjie—van eie hand hierdie keer—oor die aard en vorm van my werkie:

My bedoeling was ’n eenvoudige skildering te gee van ’n liefdesverhouding tussen ’n Afrikaanse meisie en jonkman in Afrikaanse omgewing, ’n algemeen-menselike tema op eie toneel opgevoer. Alle begeerte na avontuurlikheid of ingewikkeldheid in die verhaal was dus uitgesluit. Die inkleding, wat gebeurtenisse, natuurbeskrywing, ens. betref, moes net voldoende wees om, teen passende agtergrond, die hoofmotief duidelik te laat uitkom. Die vraag is alleen in hoever ek geslaag is om hierin harmonie en gesonde verhouding te bewaar.

’n Goeie roman huldig dieselfde beginsele, en werk dit alleen breër uit.

Ek het ’n losse en onafhankelike vorm gekies, omdat daar baie dinge gesê moet word, wat eenvoudige mededelinge is, en net ondigterlike rymelary is as dit op strenge maat en rym gesê word, terwyl poësie in elke vorm goed uitgedruk kan word waar dit in ’n werk voorkom.

Hoewel die vorm los is, is dit darem nie ongebonde nie. Die goeie leser sal dit dadelik sien, en die sangerigheid en maatgang, wat ek bedoel het, tot hul reg laat kom.

Die skrywer.

PRETORIA, 20 Oktober 1915.

Na verskyning van die Derde druk, in Januarie 1919, laat ek bowestaande voorwoord ook vir hierdie vierde druk geld. Die laaste spellingreëling deur die Suidafrikaanse Akadémie goedgekeur in Januarie 1920, word hier toegepas.

STELLENBOSCH, Junie 1920.

I.

Dis warm.... en stil. Stil ook in die grote boerehuis onder die eike; geslote ten halwe die luike —die groene luike van die rame— soos oë swaar van sluimering by middag-sonnestowe; mure en stoep hier en daar bestrooi met ligtende skyfies, waar die sonlig val deur die blare, deur die donkere loof van die eike. Hoog bowe voordeur en stoep, eerwaardig en stil die skaad’-wee verrys die ou-Hollandse géwel, gestreel deur die uitspreiend lower en bowe die voordeur as rustend op twee sware krulle in die muurwerk, waar die jaartal, gedruk in die witkalk, die ouderdom toon van die woning.

Dis stil. So ’n stilte wat hang en wat draal, of hy weet dat die middag nog lang is en hy heerskappy sal behou daar in die ou bome se skaad’-wee. Onder die rusbank op stoep, sy lede rekkend van luiheid, lê Jafta die huishond te slaap, geterg deur die gonsende vlieë. Die tuinmuur langs, in die skaad’wee, daar skuil die hoenders byeen in klompies, swyend en gapend. Náby die klip oor die voortjie lê Adam, die otjie, in die water en dam dit op, teen sy sye, —stilbrommend van innig genot na rukkies van roereloos drome.

Stil is die lange huisgang —die sware voordeur geslote— dofglimmend die donkere planke alleen waar dit lig deur die rete, wegduist’rend na agter in skeem’ring, in fluist’ring van vele geheime. Die tafel in die kombuis is blank geskuur vir die Sondag, en dáar staan, in eensaamheid singend, die ketel op die gele konfoortjie. Deur die half geópende luikie val skuins op die vloer, in die middel, ’n goudgerf van léwende sonlig, deurwemeld van drywende stoffies, deurflits van die dartele vlieë wat, gonsende ook op die ruite, die dreune-deuntjie stem van somer-námiddag-vrede.

„Wouf”—dis ’n blaffie van Jafta, opskrikkend meteens uit sy sluimer, want dáar in die muur het die hekkie sy piepend geluidjie laat hoor, en ower die werf kom langsaam ’n wandelaar aan in die paadjie. Nie meer nie as één luie blaffie het Jafta gelos, die ou luiaard, en kom nou stêrtswaaiend nader tot aan die rand van die stoep om daar die besoeker te wagte; —vrind’lik, as oue bekende, streel Roelof die hond op sy hare. Nie wensend oom Koot en tant’ Mieta te steur in hul námiddag-slapie gaan Roelof maar sit op die rusbank en wag in die eike se skaad’wee.

Lui-kronkelend, vèr en naby, styg hier en daar uit die bome ’n blou en gesellige rokie, van námiddag-koffie getuiend, van vrind’like buurskap en vrede.

Aan die hek van die saailanderye, rus eensaam die dam in die skaad’wee, die hangende lower weerspieëlend van omstaande dromende wilge; eentonig en skel klink vandaar die geluid van die singende bésies in slepend en eindeloos skryne —soos lied van die warmte selwe.

Te veel is die simfonie van die somernamiddag vir Roelof, te veel na ’n wand’ling veral uit die dorpie daar in die laagte; hy sien nog die dakke van ver deur die béwerige waas van die warmte en hy ruik die bedwelmende lug deur die son uit die blare gestowe; dit skemer en draai voor sy oë, sy hoof sink al laer en laer.... tot hy wegduik in rustige sluimer....

Agter sy rug gaan die vensterluik stádigies, stádigies ope, ’n handjie kom dáaruit te voorskyn en hou in die fynblanke vingers ’n koppie. Wat sou wel die plan wees? Kyk, dit kom nader en nader tot bowe sy halsboord van agter, hy sien nie en hoor nie, maar, au! daar voel hy ’n ys-koue straaltjie meteens in sy nek en sy rug en spring hy oorend van die rusbank! ’n halfgesmoorde laggie in die kamer en vensterluik haastig geslote— dit help hom nog meer uit die droom; ’n breë goedaardige glimlag verhelder meteens sy gelaat— en hy gaan maar weer sit op die rusbank.

’n Rukkie gaan so nog verby, en nou kom, met stadige stappies, om die verste hoek van die stoep, ’n mooi slanke meisies-gestalte in haelwit sondagse klere,— ’n handwerkie vlak voor haar oë, waar sy skynbaar geheel in verdiep is, singend, half-hoorbaar, ’n deuntjie, of sy dink dat sy heeltemal alleen is; maar nou en dan sweef om haar mondjie ’n skuldig-ondeuënde laggie wat moeilik die dwang kan verdra. Sy ’s nader en nader gekom en meteens kyk sy kastig verwonderd nou op in die jonkman se oë: „So, is jy daar, en hoe lank al sit jy hier te wag op die rusbank?” En Roelof hou kastig vir hom kwaad, en set so’n donker gesig op en roer so komieklik sy rug dat sy nou haar lag nie kan hou nie, en dit val soos musiek van haar mondjie, soos klippies wat ploems in die water.

Dis seker maar die skone kans vandag wat Martjie het verlei tot so’n grap, as dat sy lang genoeg vir Roelof ken om so iets te durf waag, want op haar wange is ’n blos wat sy probeer aan d’ aandag te onttrek deur praatjies, volgend haastig op mekaar, en grappies waar sy selwe baie om lag.

Oom Kootjie en tant’ Mieta verskyn ook nou op stoep in sondags-klere. En nog ’n keer lag almal hart’lik saam oor daardie koppie water. Is Roelof onbeleef? Nee, maar onbedagsaam is hy wel as hy hom af en toe so heeltemal kan omdraai na oom Koot om dan met hom alleen te praat oor dit en dat, asof hy glad vergeet dat Martjie en tant’ Mieta ook nog daar is. En, kyk, dis dan dat Martjie, op haar stoel se rug geleun en met haar hofie op haar hand gestut, haar oog laat gaan na vèr, waar bloue lug die blonde velde raak, waar goudstof lê van ondergaande son, op gras gestrooi. En starend-ernstig bly dan daar haar oog gevestig, soos ene wat die wêreld het vergeet— geslote in haarself. En wie haar nog nie ken, haar vrolik sorgeloos bestaan in ryke ouerhuis, sou dink in daardie blik d’ ontdekking te gewaar van dreiend onheil, en ’n siel wat sig met huiw’ring tot ’n stryd berei. Maar hy dink daaraan wel die minste, hy wat, altyd nog geselsend met oom Koot, na haar nie omkyk nie.

Meteens het nou oom Kootjie haar gewaar soos sy daar sit en droom. ’n Grappie is die ou se lus en lewe: hy stoot vir Roelof aan en wink na Martjie. Behoedsaam staan die jonkman op en, stadig naad’rend, klap hy meteens sy hande op mekaar net by haar hoof. Sy wip van skrik en vang haar asem met ’n diepe haal, en almal lag haar same uit, oom Koot, die ondeug, nie die minste nie. „So, nou het ek die skuld weer afbetaal,” sê Roelf, „vir daardie koppie water, „en jul kan my glo, oom Koot, „sy ’t net so hoog gespring soos ek.”

Die meid, ou Rosie, bring op ou-nooi’s wink ’n tafeltjie op stoep, gedek met haelwit kleedjie, die koppies en die kan met koffie warm en geurend. „Maar Roelfie,” sê oom Koot, „vertel my nou „wanneer sal jy jou intrek eindlik neem?” „Oom Koot,” sê Roelf, „moet nou nie weer begin, „U weet dat my kantoor....” „Kyk Roelfie,”—en oom Kootjie lê sy hand op Roelf se skouer en skud hom— „daar ’s die dorp „en hier die plaas, „dit weet ek nou al goed; „jou ryperd staan al langtyd klaar, „kom, wanneer trek jy in, vertel my nou!” „Oom Koot, ek het ’n kamer mos gehuur.....” „En tot wanneer?” „’n Maand die minste....” „Nou goed, maar langer as ’n maand „het ek nie meer geduld, „hier op die plaas wil ek jou hê, „en nou wil ek geen woordjie verder hoor!” Daar ’s niks met ou oom Kootjie te begin, hy is lank al aan die gang daaroor, en Roelof moet die saak gewonne gee: glimlaggend stem hy toe.

II.

Roelof is ’n seun van Freed’rik Prins, Oom Kootjies boesemvrind,— skoolmaats was die twee gewees, en vrinde, tot die dood hul het geskei, vrinde aan mekaar geheg so onbaatsugtig trou as selde in die lewe word gesien. Freed’rik was dit ook wat hom met beurs en raad gehelp het toe tekort en skande gedreig het voor sy deur. Nadàt hul was getroud, het wêrelds loop die vrinde van mekaar geskei en vèr was hulle van mekaar gaan woon. Freed’riks dogters was al almal weg, getroud, verspreid; en Roelf, die een’ge seun, was weg op studie toe sy pa meteens gestorwe is. En nou, met hulp en invloed van oom Koot, is Roelof in die dorpie daar geplaas, waar Uitkyk, ou oom Koot se plaas, nie al te ver vandaan is. Begryp’lik dus dat hy die deur vir hom daar altyd ope vind en gou op Uitkyk hom moes tuis gevoel.

En elke dag ook vind oom Koot dat Roelf sy hart al meer en meer gewonne het, veral dewyl hy in maniere en aard die ou-man so herinner aan sy vrind, aan Freek, sy boesemvrind, wat hy nooit sal vergeet. Sy kinders, boëndien, is almal uit die huis, net Martjie allénig het nog oorgebly. Dit alles, en begeerte nog daarby om aan die seun die liefde-skuld weer goed te maak, het d’ou-man tot besluit gebring dat Roelf by hom ’n nuwe tuis moes vinde. Oom Kootjie en tant’ Mieta het wel stil gedagtes by hulself gemaak dat wellig, as die jonkman daar sou kom, verhoudings tussen hom en Martjie kan ontstaan —in jonge harte maklik opgewek— maar vir hulle maak dit sorg nog vrees, soos hul hom nou al ken; ja, nou en dan, en sonder woord te praat, verwissel die twee oudjies ongemerk ’n laggie met mekaar, en albei dink daarby aan wat die toekoms sou kan bring. Maar dit is al, geen woord of teken meer wat aan hul teed’re wense uiting gee; want dis hul goed en lang genoeg bekend dat Martjie ’n wil, ’n koppie van haar eie het en haar gevoelens nie laat lei.

The book keeps going

Keep reading, and see it illustrated

Reading is free forever. Sign up and watch scenes appear while you read.

Illustrated scene from FrankensteinIllustrated scene from The Great GatsbyIllustrated scene from Pride and Prejudice

Scenes Storieta drew for other classics.

New illustrated classics

A new classic, drawn, in your inbox.

Once or twice a month: the latest books to get full character casts, scene art, and free comic editions. No account needed.